In hierdie artikel word 'n kartering van Breyten Breytenbach se werksaamhede by die Gorée-instituut vir demokrasie, ontwikkeling en kultuur in Afrika (van 1987 tot 2017) gemaak. Die historiese bestekopname behels nie dat die ontstaansgeskiedenis van die instituut opgeskryf word óf dat die werksaamhede van die instituut op 'n chronologiese volgorde gelys word nie, maar dat die inisiatiewe en projekte waarby Breytenbach betrokke was, met goed beredeneerde, histories-gestaafde feite op 'n beskrywende wyse uiteengesit word.
Daarbenewens word leemtes in die ondersoek geïdentifiseer met die oog op verdere navorsing. Die artikel behels dat daar enersyds staatgemaak word op direkte waarnemingsmetodes, soos die opspoor van manifeste, persverklarings, artikels, koerantberigte, referate, briewe en bydraes op die internet; andersyds, dat daar van indirekte waarnemingsmetodes gebruik gemaak word, soos mondelinge of geskrewe response op vrae1, wat onderhoude met belanghebbendes insluit